Thursday, August 10, 2006



Die eerste jaarblad genaamd die "Dassieblad" (links) het in 1947 vir die eerste keer danksy die inisiatief van Mnr. G. F. Starker verskyn. Die drukkersbedryf was gedurende daardie tyd maar primitief en tikfoute is herstel deur bloot die korrekte letter oor die verkeerde een te tik. In die jaarblad is verskeie interessanthede uit die vroeëre geskiedenis van die skool aangeteken.

Die volgende is 'n uittreksel uit Mnr. Starker (foto hieronder) se voorwoord:

Weereens bereik ons 'n mylpaal in die lewe van ons inrigting, met die verskyning van die 1947 Jaarblad, wat 'n boodskap die land in, aan al die oud-Dasse moet dra.

Ons weet dat elkeen gretig daarna sal uitsien om te lees watter vooruitgang daar in hierdie 12 maande gemaak is. Ons hier is derhalwe goed daarvan bewus dat daar gedurig vordering en verbetering van ons verwag word, want so moet ons telkens verslag doen van ons rentmeesterskap.

Na die uiterlike is daar, ten spyte van die beperkings wat daar op die gebied van bouery is, twee pragtige groot klaskamers by die skoolgebou gevoeg. Die een is die tekenkamer, en die ander 'n goed toegeruste wetenskapkamer. Hier word nou in 'n lang gevoelde behoefte voorsiening gemaak en ons is daar oortuig van dat die verbeterde fasiliteite wat daar nou is, ook in hierdie opsigte vir leerlinge in die toekoms beter toerusting sal besorg vir die goeie stryd in die lewe.
Ook is die kleedkamers en gimnastiek-stoorkamers by die swembad nou voltooi. Saam met die klaskamers wat aan die agterste vlerk van die skool aangebou is, vorm hierdie kleedkamers 'n pragtige vierkant, wat, met 'n goeie gruisblad, uitstekend sal wees vir liggaamsoefeninge, wanneer die weer gunstig is. Dit sal moontlik later nodig blyk om dit van 'n betonblad te voorsien.

Op sportgebied het ons ook hierdie jaar 'n nuwe rigting ingeslaan. Toe die nuwe rugbyseisoen in April begin, het ons die hele skool in agt spanne verdeel, elkeen waarvan minstens een keer per week geoefen het. Daarbenewens het elke Das minstens een keer per week tennis gespeel, en een keer in twee weke teiken geskiet en jukskei gespeel. Toe die somerseisoen na die Septembervakansie begin, het ons oorgeslaan na krieket, bofbal, atletiek, tennis en skyfskiet.


(Eerste Span 1947)

Die oorweging is dat ons dit as die funksie van ons skool beskou om aan elke leerling ten minste die beginsels op praktiese wyse van 'n verkeidenheid spelle te leer. Op diè wyse sal ons stellig in menige ongeslypte diamant 'n latere uitblinker ontdek, en dan ook, deur middel van hierdie elementêre ervaring vir elkeen 'n groter genot as toeskouer in die toekoms verseker, en selfs moontlik kritici of skeidsregters ontwikkel.

Dit alles verg meer ure na skool van al die staflede, en ons waardeer ten seerste die bereidwilligheid van almal om die opofferings te maak. Ook in hierdie opsig sal die beloning stellig later kom as ons miskien enkele van ons leerlinge se name in Springbokspanne gewaar. Immers, die grootste beloning vir die staflid is die bereidwillige gees en entoesiasme waarmee aan die oefening deelgeneem word, sodat die uurtjie in die middag veraangenaam en al te veel verkort word.

Vir my het daar 'n besondere eer te beurt geval om vir ses weke in Julie en Augustus as een van die verteenwoordigers van Suid-Afrika, die Opvoedkundige Seminaar van die Verenigde Volkere se Opvoedkundige en Kulturele Organisasies in Parys, Frankryk, by te woon.

Hierdie studiekring het hom ten doel gestel om 'n studie te maak van die moontlikhede van die Opvoeding om 'n bydrae tot Internasionale welwillendheid te lewer. Daar is geen twyfel daaraan dat baie van die volkere se moeilikhede, net soos die van persone, berus op misverstand. Misverstand, weer is te wyte aan min verstand. "Verstand" nie net in die betekenis dat die vermoë om te verstaan gebrekkig is nie, maar ook dat die materiaal, die kennis om 'n gesonde oordeel te vel, ontbreek.

Ons het hierdie proses op ons eie skool gesien, en die vordering waargeneem. Hoeveel misverstande was daar nie tussen leerlinge en staflede in die verlede? Net omdat hulle nie die middels gehad het om mekaar beter te leer verstaan, en derhalwe te vertrou. Vandag het ons geleer dat die Dasse self ons grootste bate is, nie alleen om die dissipline in die inrigting te help handhaaf nie, maar ook die reëls werklik so diep in die lewens inslag te laat maak, dat hulle lewensbeginsels word. Daarom in ons oortuig dat ons leeringe vandag reeds, en in die toekoms meer en meer, as burgers die samelewing ingaan, toegerus om onderling, in ons land en in die wêreld welwillendheid uit te lewe en te versprei.

Ons stuur aan alle oud-Dasse ons allerbeste wense en groete.

G. Starker: Prinsipaal.




Gedurende 1947 is daar ook 'n reünie gehou van afgetrede onderwysers wat op George bly woon het. Hulle is op die foto links CEE Gerber, JH Barry, JH Joubert, L. Kortenhoeven en DJ Winterbach. Só is daar in die Jaarblad oor hulle geskryf:

Van ons oud-staflede woon daar vyf op George. Ons het eendag op die bult so 'n klein re-unie van hulle gehou om 'n kiekie (wie onthou nog daardie woord?) te neem. Hulle is, soos opgemerk sal word, nog almal springlewendig en gelukkig gesond, en van meer as een het ons reeds gebruik gemaak om afloswerk te doen. Ons wens hulle toe 'n nog lang en gelukkige lewe.

Die volgende kostelike (aangepaste) staaltjie verskyn in die jaarblad: 'n Das moes koeie op die plaas oppas, maar een raak weg. Hy gaan soek haar, en loop 'n engelse omie raak. Sy engels was nie te waffers nie en hy vra: Oom, have you not seen the ox se wife?

Die volgende advertensie verskyn ook daarin: Benodig: "Beuelblaser" - Moet "opstaan" blaas sodat al die seuns wakker word maar nie een van die staf nie. Moet "slaaptyd" blaas sonder dat staf-babatjies wakker word, maar sodat die Huishoudskool dit kan hoor. "Siekboekdraer" - Moet mistens Std.VI geslaag het. Moet staflede kan help met optel en aftrek, sodat die aantal op skool elke dag reg aangegee kan word. "Briewe besteller" - Moet briewe by die Huishoudskool aflewer sonder dat die staf daarvan weet. Moet ook bereid wees om blommetjies, kiekies ens uit te ruil.

A pupil R. Russel wrote the following article "Life at the Dassiebult": When you come to the school everything is different from other schools. You are free for the first day only. The next day you have to get down to "Brass tacks".

On Mondays, Wednesdays and Fridays there is school for the juniors. Tuesdays and Thursdays they go down to the shops. Life here is not bad if you know how to do your work and learn hard.

The school is divided into four hostels. The names are "Voortrekker", Palm", "Welkom" and "Jakaranda". There are about 150 - 200 boys in the school altogether. On Saturday mornings, from 10 o'clock to 12 o'clock we are allowed to go to town to buy things we need during the week. Every Saturday morning we are allowed to go to bioscope in town.

Every Sunday we go to church and Sunday school. We have to learn bible text for our Sunday school teacher.

Once a month there is a debate. That night the new boys must go to the platform and recite and sing. Once a month there is bioscope in town at night, when we are allowed to go. Three or four times a month we have our own bioscope on the Dassiebult. They show us pictures about rugby, tennis, boxing, swimming and a lot of other things. Every July and December we are allowed to go to our parents. Those who cannot go home, go to Hartenbos and enjoy themselves by the sea.